![]() |
Uit
die Geskiedenis van die Nederduitsch Gereformeerde Kerk Deur Dr Gerdrie van der Merwe VDM te Kuruman, Suid-Afrika Storie eenendertig tot
vyfentagtig Foto’s en webredaksie: Benno Zuiddam
XXI Leraar trou met een
van sy dopelinge
Kaap die Goeie Hoop – 20 Januarie 1783.
Ds Petrus van der Spuy is op sestigjarige leeftyd
in die kerkgebou op Stellenbosch met ‘n jonge dogter getroud wat hy as kindjie
gedoop het. Toe hy haar op 21 Julie 1748 in die Kaapse gemeente doop, het hy skertsend aan haar vader gesê dat hy
die klein dogtertjie vir hom as vrou moes grootmaak. In 1753 is hy na die
gemeente Drakenstein in die Paarl verplaas, waar hy na veel spanning en stryd,
maar met ‘n verdieping in sy geestelike lewe, as oujongkêrel in 1781 geforseer
word om sy emeritaat te aanvaar. Hy verhuis na Stellenbosch waar hy hy verlief
raak op die jong Maria Elizabeth Adleda met wie hy op 19 Januarie 1883 trou.
Dit is was besondere gelukkige huwelik en vier kinders, wat groot vreugde aan
die ou leraar bring. Maar sy sterf skielik in 1791 en hy oorleef haar agtien
jaar lank en sterf op 4 Maart 1809. Ds Petrus van der Spuy word agter die
Moederkerk op Stellenbosch begrawe waar sy graf nog tot vandag toe besigtig kan
word.
XXXII Dominee kwaad oor
straatnaam
Kaap die Goeie Hoop – 31 Desember 1790.
Die bejaarde ds Johannes Petrus Serrurier het
heftig beswaar gemaak teen die naamsverandering van die straat in Kaapstad
waarin hy woon. ‘n Kommissie van die hooggeregshof wat aangesel is om name aan
nuwe strate en pleine te gee, besluit om die bestaande Bergstraat na
Venusstraat te verdoop en die naambord van die straat bokant die dominee se
deur vas te spyker. Vriende vermoed dat dit in opdrag van die goewerneur Jacob
van de Graaff geskied het, want dit is algemeen bekend dat hy baie kwaad was
oor ‘n preek wat ds Serrurier oor Isébel gelewer het. Hy is vas ooruig dat die
dominee in daardie preek op sy vrou geskimp het. (ge-epos op 18/06/2002)
XXXIII Predikant weens
dwaalleer verban
Kaap die Goeie Hoop – 27 Febraurie 1751
Ds H H van der Veen is gister deur die polisie op
‘n verbygaande boot gedwing weens die dwaalleer wat hy aan die Kaap verkondig.
Hy kry aanvanklik verlof om aan die Kaap weens siekte aan te sterk, later blyk
dit ‘n verskoning te wees proselietmakery. Spoedig word hy gebrandmerk as ‘n
dweepsieke, verdraai die Woord word die kansel in Kaapstad belet. Toe sy sondes aan die die Kaap hom inhaal,
is hy na Malmesbury om soos hyself getuig boerekos te weet om weer sterk te
word. Oral beeïnvloed hy lidmate en saai twyfel oor aanvaarde godsdienstige
sake en gebruike. Goewerneur Ryk Tulbagh sorg dat hy uit die Kaap verwyder
word, ‘n bemoeisieke predikant wat kerkmense meer ontstig as stig.
XXXIV Leraar met sagte
stem
Kaap die Goeie Hoop – 25 September 1786
Ds Meent Borcherds het gister sy afskeidspreek in
Kaapstad gehou na ‘n kort dienstermyn en lewer op 22 Oktober 1786 sy
intreepreek op Stellenbosch. Hy is iemand met ‘n swak gestel en die groot
kerkgebou in Kaapstad is volgens hom te groot vir sy sagte stem. Na na die koms
van sy kollega ds H R van Lier, word hy op eie versoek na die gemeente
Stellenbosch verskuif, want die kerkgebou daar is baie kleiner waar hy met
minder inspanning sy preke kan lewer. Na veertig jaar tree hy in 1826 in die
Eikestad af, waar hy in 1832 in sy huis La Gratitude sterf en op Stellenbosch
begrawe word.
XXXV Twis oor ouderling
se verkiesing
Kaap die Goeie Hoop – 2 Desember 1771
In die gemeente Drankenstein is daar groot onenigheid
na die verkiesing van heemraad T A Theron as ouderling van die gemeente. Die
eens bloeiende gemeente word deur twis en tweedrag byna verwoes, meer as die
helfde van die gemeente teken ‘n protesskrif. T A Theron is vir sommige ‘n
omtrede figuur, ondermeer omdat hy in rusie lewe met sy bure, aan ander se
watervore en damme peuter om water te steel en sy skoonmoeder sleg behandel.
Die besadige ds Petrus van der Spuy kom ook in die spervuur en word later die
middelpunt van die geskil en moet later die gemeente Drakenstein verlaat. Eers
met die koms van ds R N Aling in 1784 word die gemoedere geklameer en die
gemeente weer in eensgesindheid saamgesnoer.
XXXVI Predikant sak op
preekstoel inmekaar
Kaap die Goeie Hoop – 14 Julie 1792
Ds
Helperus Ritzema van Lier het gister op die kansel van die Groote Kerk
in Kaapstad inmekaar gesak. Alhoewel hy nooit ‘n gesonde man was nie, is sy
toestand verlede jaar vererger toe hy aan bloedspuwing begin lei het. Hy is een
van die geleerdste predikante aan die Kaap en is ‘n bekwame lid van die
Genootskap van Kuns en Wetenskap van Batavia. Hy studeer snags tot laat en werk
bedags van vroeg tot laat. Gemeentelede is van mening dat hierdie leraar te
veel hooi op sy vurk het en sal moet afskaal,
maar almal weet sy ywer en entoesiasme ken geen perke nie. Hy is ‘n
uitstaande prediker wat korter as ander leraars preek en meer tyd aan huis- en
siekebesoek bestee. Hy sterf op 21 Maart 1793 slegs enkele weke na die
aanvaarding van sy emeritaat weens swak gesondheid.
XXXVII Pleitbesorger vir
sending
Kaap die Goeie Hoop - 9 Maart 1794
Ds Michiel Christiaan Vos is gister bevestig as
leraar in die gemeente Roodezand (Tulbagh) in die Land van Waveren. Hierdie
tingerige jong leraar lewer sy intreepreek oor Markus 16:15 en laat
gemeentelede met verbasing regop sit toe hy ‘n getuienis lewer oor sy
sendingroeping en begeerte uitspreek om hulle slawe geestelik te bearbei. Hy is
‘n welsprekende leraar en lê ‘n unieke sendingaksent in prediking. Ds Vos
beskou huisbesoek en die meeleef met lidmate op voetsoolvlak as van groot
belang. Sy gemeentebediening word gekenmerk deur herlewing en geestelike groei
na binne en buite. (ge-epos 21/6/2002)
XXXVIII Diakonale
hulpverlening
Die diakonie
het besluit om die 101-jarige stamvader Otto Ernst van Graan en sy vrou
finansieel by te staan tot met sy dood vier jaar later. Benewens sy doofheid
waaraan die kerkraad niks kon doen nie, help hulle die gesin met klere,
komberse, kussings en skoene.
Die kerkraad het ongehoorsame gemeentelede ernstig
vermaan en as mooipraat nie help nie is die burgerlike owerheid se hulp
ingeroep. Toe die sestienjarige Johanna nie wou hoor nie besluit die kerkraad
van Kaapstad om haar voet met ‘n ketting aan ‘n blok vas te sluit sodat sy kan
hoor en die weer van die huis wegloop nie. As straf moes sondaars onder toesig
werk en is soms na Robbeneiland gestuur om oor sondes na te dink. Indien dit
nie suksesvol is nie word hulle met geweld op verbygaande kompanjieskepe na
Batavia geplaas.
XL Blitsromanse van leraar
Kaap die Goeie
Hoop – 31 Mei 1785
Die jong ds Meent Borcherds raak kort na sy
aankoms as nuwe leraar van Kaapstad verlief op Aletta Jacoba de Wit, ‘n jong dogter
van die Kaap. Hy is die dag na sy verjaardsdag op 4 September 1785 met haar
getroud en die egpaar word kort hierna na Stellenbosch verplaas waar hy later
‘n eie huis in Dorpstraat bou. Hy noem dit La Gratitude en laat op die
voorgewel die alsiende oog van God aangebring. Vier jaar na sy aftrede sterf sy geliefde vrou en hy twee jaar later
in 1832.
XLI Ou begrafnisgebruike
Kaap die Goeie
Hoop - 16 Oktober 1797
Die aantal begrafnisse, wat volgens ‘n ou
Hollandse instelling saans met kerslig plaasvind, neem aan die Kaap so toe dat
die kerkraad dit op ‘n onlangse vergadering verbied uit vrees dat die kerkgebou
aan die brand kan raak. Dit Britse bevelvoerder, generaal Dundas se hulp is
ingeroep om te help met die toepassing van die besluit van die kerkraad. Dit
was gebruiklik dat slegs mans na begrafnisse genooi is, want die aansien van
die agtergeblewe familie is verhoog deur die groot hoeveelheid roubeklaers wat
huilend agter die stoet beweeg. Vanwee ‘n ou bygeloof dat die twee wat
heelagter stap, die volgende sou wees om te sterf, het die mense kort-kort
plekke omgeruil.
XLII Leraar se liefde vir die natuur
Stellenbosch –
1802
Ds Meent Borchards het onlangs ‘n gedig
gepubliseer met die titel: “De maan, een leergedigt”. Hierdie leraar het ‘n
besondere liefde en aanvoeling vir die natuur en sterrekunde, ook vir
letterkunde, geskiedenis en oudheidkunde. As vader het hy gewoonlik met
sonsopkoms gesprekke met sy seun, om
aan hom die wondere van die natuur deur God geskep op die hart te druk.
XLIII Kragtige Kaapse prediker
Die bekende ds Jan Petrus Serrurier het pas sy
emeritaat aanvaar na ‘n dienstyd van 44 jaar in Kaapstad. Hiermee verloor die
kolonie een van sy bekendste en gewildste leraars, ‘n kragtige prediker wat die
Woord op ‘n eerlike en dinamiese wyse aanbied. Die geheim van sy prediking le
in sy kragtige persoonlikheid en die vermoe om die gesproke woord in te span om
sy gehoor mee te voer. As welsprekende redenaar gee hy waardigheid aan sy amp en as kenner van die Bybel is sy
uitleg korrek en sielsverkwikkend. Ds Serrurier was by uitnemendheid ‘n gesogte
geleentheidsprediker. In sy dienstyd word die kerkgebou verander en die
historiese Anton Anreith kansel in 1789 ingewy, vanwaar hierdie groot
kanselredenaar die Woord van God met waardigheid en geloofsmoed verkondig.
Gisteraand tussen tien- en elfuur het ‘n hewige
aardbewing Kaapstad en omstreke geskud, inwoners het dit beskryf as ‘n skrikwekkende
rommel geluid asof honderde perdewaens in volle galop in die straat hardloop.
Die aarde het geskud en mense het weens vrees uit hulle huise gestorm, selfs op
skepe in die hawe mense uit hulle hangmatte geslinger. Selfs die onverskilliges
het na buite gehardloop en hard geskree. Bid vir ons, bid vir ons. Die meeste
mense het bidure bygewoon, daar was geen onderskeid tussen ouderdom, stand of
kleur nie. Almal het die aangesig van die Here gesoek. Mense het die eerste
paar nagte in tente is op die parade geslaap want hulle was te bang om na hulle
huise terug te keer. Die eerste Sondag na die aardbewing was die Groote Kerk
stampvol, die leraars het die situasie benut om die Woord van God te verkondig en mense het ‘n geestelike
verdieping ondergaan.
Verskeie jong getroudes het met ‘n skok besef dat
hulle huwelike ongeldig is omdat die berugte Anglikaanse leraar Rev Laurence Halloran
onbevoeg is om as huweliksbevestiger op te tree. Hy was sedert 1807 ‘n kapelaan
aan die Kaap en was ‘n gewide en kragtige prediker, maar het Sondae soms mense
van die kansel af aangeval wat in die week met hom verskil het. Toe hy met die
Kaapse koloniale sekretaris Henry Alexander bots, preek hy oor die teks:
"Alexander die kopersmid het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom
vergeld vir al sy werke”. (2 Tim.4:14). Hy word aangespreek en rig verskeie
naamlose briewe aan luitenant-goewerneur George Grey, wat hom na Simonstad. By
nadere ondersoek blyk dit dat hy nooit ‘n predikant was nie, want sy
toelatingsdokument tot die evangliebediening is vervals. Hy keer terug na
Engeland en gaan voort met sy skelmstreke en verkry selfs op ‘n onregverdige manier
‘n doktorsgraad in Teologie aan die Universiteit van Aberdeen. Hy dien later
gevangenisstraf in Niew-Suid-Wallis uit en is steeds nie genees van sy
jakkalsstreke nie.
XLVI Perdekarre
raas met kerkdienste
Drakenstein – 15 Oktober 1805
Aangesien die kerkgebou van die gemeente
Drakenstein in die Paarl langs die hoofweg na die binneland le word eredienste
soms deur geraas en perdekarre ontstig. ‘n Groot probleem is dat mense tydens
eredienste in vermaan om sulke onstigtelike
gedrag te keer en om hulle buite te hou tot na die uitspreek van die seenbede.
Hy moet ook rytuie stop en verbied om tydens eredienste heen en weer verby die
Strooidakkerk te ry.
XLVII Grafkelder
verbied
Drakenstein – 14 Februarie 1807
Die kerkraad van die Strooidakkerk in die Paarl
keur ‘n versoek van Hendrik de Leeuw af wat ‘n kelder oor die graf van sy kind
wil bou, dit sou te ooglopend wees. Hy word versoek om te volstaan met ‘n
geringe steen of gedenkteken. Eienaardig genoeg word die eerste grafkelder kort
daarna toegelaat, maar die familie moes vir drie grafte betaal. Later word
verskeie grafkelders rondom die historiese kerkgebou opgerig, tot vandag toe
bakens uit ons kerklike- en kulturele verlede.
XLVIII ‘n
Dienende Martha
Kaapstad -
1 Oktober 1810
Die vroom Matilda Smith het onlangs ‘n “Vrouen-Genootskap”
vir hulpbetoon aan noodlydendes in Kaapstad gestig. Haar liefde vir die Meester
en verterende belangstelling in sendingwerk en armsorg, sorg dat hierdie
merkwaardige vrou met verskeidenheid talente en gawes een van die bekendste en
bemindste figure van haar tyd word.
XLIX Wynkelder
word kerkgebou
Swartberg (Caledon) – 20 Mei 1811
Die jong ds M C Vos begin sy geestelike arbeid aan
die Swartberg, ook genoem Warmbad omdat ‘n warmbron daar ontspring. Daar is
geen pastorie en kerkgebou nie, daarom neem die leraar sy intrek in ‘n
boerewoning vanwaar hy die gemeente opbou. Hy verander die wynkelder in ‘n plek
van samekoms vir die gemeente, wat selde deur minder as 200 gemeentelede
bygewoon word. Onder sy leiding word in 1813 ‘n eie pastorie en kerkgebou
ingewy en verander die dorp se naam na Caledon.
L Afskeid
weens ouderdom en siekte
Swartberg (Caledon) – 2 Augustus 1818
Die geliefde ds M C Vos het sy emeritaat weens
swak gesondheid aanvaar en lewer sy afskeidspreek in ‘n stampvol kerkgebou. Hy
doen dit sittend omdat hy nie meer lank kan staan weens verswakte bene nie. Die
afbrand van sy pastorie met al hulle besittings op Caledon was ‘n groot
beproewing vir die leraarspaar en hulle ses kinders. Die pastorie word nie gou
herbou nie en die gesin woon by gemeentelede wat hulle met liefde behandel
sodat hierdie leraarspaar met hulle gemeentelike werk kan voortgaan. Na sy
aftrede vestig die gesin hulle in sy vorige gemeente Tulbagh waar hy vroeer ‘n
eie woning gekoop het.
LI Begrafnisse
se groot eet en drink
Kaapstad – 25 Oktober 1818
Sedert die volksplanting aan die Kaap is dit
gebruiklik dat na begrafnisse groot geeet en gedrink word, want die
familiebetrekkinge en vriende het van ver gekom en die innerlike moes versterk word
voordat die terugreis aanpak word. In die naam van boeregasvryheid is die
tafels behoorlik oorlaai en het drank vrylik gevloei. Met die dood van die
Kapenaar Hendrik Cloete het die koster
170 bottels wyn en bier, 4 bottels jenewer, 4 bottels Franse brandewyn en die
nodige tabak met 5 dosyn pype bestel vir die begrafnis. Dit was voorwaar ‘n
vrolike gebeurtenis wat die droefheid gedemp het. Daar was ook uitsonderings
soos met die dood van Lord Charles Somerset se vrou Elizabeth, met haar
begrafnis is geen resepsie aangebied nie en die draers het slegs 12 bottels
rooiwyn ontvang.
LII Skotse
leraars na die Kaap
Kaapstad –
15 Julie 1822
Op versoek van lord Charles Somerset werf die
bekwame dr George Thom Skotse leraars om vakante gemeentes te beman, omdat plaaslik
geen leraars beskikbaar is nie. As lede van die Skotse Presbiteriaanse Kerk is
hulle opreg en buitengewoon vroom, getroue pastors en hartlik en warm in hulle
prediking en omgang. As manne van God versier ds Andrew Murray (Graaff-Reinet),
ds Colin Fraser (Beaufort-Wes), ds Henry Sutherland (Worcester), ds George
Morgan (Somerset-Oos) en ds Alexander Smith (Uitenhage) gemeentes in die Ned
Geref Kerk in Suid-Afrika. Die Skotse leraars handhaaf die gereformeerde leer
en kerkregering, vereenselwig hulle so intens met die Afrikaner en sy saak dat
hierdie geliefde vreemdelinge as eie aanvaar en gerespekteer word.
LIII Kaapse
vyfde gemeente
Het Swartland -
27 Junie 1745
Ds F le Sueur, leraar van Kaapstad, het vandag ‘n
nuwe gemeente in die Swartland gestig, met ds R A Weerman as eerste leraar. Die
klein gemeente bestaan uit 55 lidmate en die eerste kindjie word gedoop nadat
die leraar sy intreepreek hou oor 2 Kor 8 vers 1
tot 3. Die lidmate wou dadelik ‘n nuwe kerkgebou oprig, maar aan die Kaap was
daar ‘n skaarste aan goeie bruikbare timmerhout. Net vyf lidmate woon naby die
kerk, ander so vêr as Groot- en Klein Paardeberg, Riebeeck-Kasteel en in die
omgewing van St. Helenabaai. Die nuwe leraar het te kenne gegee dat hy gretig
is om gereeld huisbesoek te doen.
LIV Ryk
Tulbagh en kerklike apartheid
Kasteel die Goeie Hoop – 5 September 1754
Goewerneur Ryk Tulbagh het ‘n wet ingestel om
slawe aan die Kaap te beheer, ook wat kerklike meelewing betref. Omdat slawe
baie raas tydens eredienste en begrafnisse, is hulle verbied om in die portaal
van die kerk of binne die kerk se ringmuur te kom. Met die begrafnis van ‘n
slaaf of slavin mag nie meer as tien slawe die begrafnis bywoon nie. Die wette
is ook uitgebrei na die allerdaagse lewe. As ‘n slaaf op straat moedswillig
teen ‘n blanke stamp, moet hy gestraf word. Slawe mag nie in groepe in die
strate loop nie en moet na tien uur in die aand ‘n lantern in die hand dra.
Saans mag hulle nie hard sing of fluit-fluit deur die strate loop nie, ook mag
hulle nie ‘n geweer of mes dra nie. Ryk Tulbagh was van mening dat indien die
nuwe wette streng nagekom word, almal aan die Kaap gelukkig sou leef.
LV Predikant
knak in bediening
Roodezand/Waveren
-1774
Na die emeritaat van die geliefde ds A M Meiring
op Tulbagh word hy in 1861 opgevolg deur ds R Hardens, wat bang was om in die
befaamde voetspore te volg. Dit het aanvanklik goed gegaan, ‘n nuwe pastorie is
byvoorbeeld gebou en duursame vloerteëls uit Batavia is gebruik. Maar die eise
van die bediening was vir hom te veel en na ‘n dienstyd van sewentien jaar
verlaat hy die gemeente. Ds Remmerus Harders het kranksinnig geword wat destyds
beskryf is as “een krankheijdt in de hersens”. Hy is eervol ontslaan met behoud
van salaris, waarna hy en sy vrou, Pretonella van Reede van Oudtshoorn, in
Kaapstad gaan woon tot met sy dood in 1807.
LVI Onheilskip
bring nuwe dominee
Kaap die Goeie Hoop – 28 Maart 1743
Ds A M Meiring het gister met die seilskip Adrichem
in Tafelbaai aange=
kom, na ‘n rampspoedige uit Texel in Nederland.
Die skip was geteister, aan boord was 43 dooies en 41 siekes. Op weg na die
Kaap het die vaartuig deur ‘n winterstorm en verskeie orkane getref, terwyl ‘n
verwoestende brand ook twee keer uitgebreek het. Om alles te vererger het koors
onder die passasiers gemaai, op een stadium was meer as 150 mense siek. Op die
skip was ds en mev Arnold Meiring en hulle vier kindertjies, op weg na Indië.
Tydens die tog sterf mev Meiring aan koors, terwyl die leraar met sy jong
kinders alleen voet aan wal sit in Tafelbaai. Nadat die goewerneur hom hoor
preek het word hy ‘n predikantspos op Tulbagh aangebied, wat hy aanvaar en so
word hy die stamvader van die geslag Meirings wat diep spore op die kerklike
werf in Suid-Afrika trap.
LVII Swak
verplasing van leraars bring pyn
Kaapstad – 1780
Die verplasing van leraars deur die regering het
net soos in Oos –Indië ook aan die Kaap groot ontevredenheid veroorsaak. Die
plaaslike regering het deur gewetenlose amptenare groot onmin veroorsaak deur
leraars waarvan hulle nie gehou het nie te straf, hulle is na goeddunke
verplaas na plekke wat vir leraars onaangenaam was. Predikante het dit beleef
as straf en die stelsel van ‘n houvas van die staat op die kerk het groot pyn
en ontwrigting in die kerklike lewe gebring.
LVIII Graaff-Reinet as
ligbaken
Groot Karoo – 1792
In die omgewing van Graaff-Reinet is daar reeds in
die tyd meer as 600 huisgesinne wat die geborgenheid en weelde van ‘n eie
gemeente ontbeer. Daar is gevrees dat ‘n hele geslag wat aan hulleself
oorgelaat is, sou verwilder, maar hulle gehegtheid aan die Statebybel was ‘n
lig op die pad, ‘n kompas in die vreemde. In 1791 stuur die regering ds J H von
Manger na die nuwe “kolonie” wat die pad voorberei vir gemeentestigting, onder
die moeilikste omstandighede. Daar was intense spanning en opstand onder die
burgers, waarby die nuwe leraar nie kon ontsnap nie wat sy geestelike werk
ernstig benadeel het.
LIX Dominee
moet loop !
Graaff-Reinet - 1796
Aangesien ds J H von Manger blykbaar nie lief was
vir administrasie nie, het ons geen notule of kerklike dokumente van die
gemeente nie. In ‘n dokument van die staat blyk dit egter dat die leraar deur
die burgers self uit Graaff-Reinet verban is. Tydens ‘n preek op 20 Maart 1796
waarin hy die gemeente tot vrede aanspoor, het iemand hom in die rede geval
deur hard uit te roep. “Kleine Manger, ga maar aan, vandaag is het jouw beurt,
maar morgen of overmorgen zal het onze beurt zijn”. Blykbaar het hy geen moeite
gedoen met huisbesoek nie, die mense het hulle leraar ook nie vertroue
nie. (ge-pos 21/01/2003)
LX Soldate
beset kerkgebou
Graaff-Reinet – Februarie 1802
Die kerkraad besluit om by die Kaapse goeweneur
beswaar aan te teken omdat soldate die plaaslike kerkgebou as kaserne gebruik.
Hulle voel diep verontwaardig omdat die huis van die Here op die wyse onteer
word, dit is trouens afgesonder vir kerklike gebruik en aanbidding. Die
kerkgebou lyk nou meer na ‘n perdestal as na ‘n Godshuis. Skietgate versier die
mure, terwyl merke van ysters waaraan vleis gehang is, jare daarna nog aan die
trappe van die preekstoel sigbaar was.
LXI Toekenning
van sitplekke in Stellenbosse kerk
Die kerkraad van Stellenbosch
besluit dat vroue lidmate in volgorde van belangrikheid in die kerkgebou moet
sit. Die volgorde van sitplekke is soos volg: 1. Vrou van die predikant. 2.
Vrou van die landdros. 3. Vroue van oud-landdroste. 4. Regerende heemraadsvroue
en die sekretaris se vrou. 5. Oud-heemraadsvroue in volgorde. 6. Krygraadsvroue
volgens die posisie van hulle mans. 7. Vroue van kerkraadslede. 8. Vrou van die
krankebesoeker, daarna alle ander vroue streng volgens rangorde. Wanneer ‘n man
te sterwe kom verbeur sy vrou haar ere-sitplek tot sy weer indie huwelik
bevestig word met iemand anders.
LXII Ontploffing
ruk kerkgebou
Swellendam –
Oktober 1804
‘n Jaar na die aankoms
van ds J A Schutz word die kerkgebou deur ‘n geweldige ontploffing geruk. Die
regering het ‘n ou geboutjie wat in die kerkhof langs die kerkgebou gestaan
het, onder protes van die kerkraad gehuur en gebruik as kruithuis. Die gebou is
voorheen gebruik om materiaal te stoor met die bou van die nuwe kerkgebou.
Waarvoor die kerkraad gevrees het, word werklikheid toe die ammunisie-depot
ontplof wat dood en verwoesting agterlaat. Die kerkgebou is ernstig beskadig en
word deur die regering herstel, ongeveer 1,000 ruite word vervang.
LXII Tolgeld vir
kerkgangers geskrap
Roodezand/Waveren – 4 April 1804
‘n Brief van veldkornet Petrus van der Merwe dien
voor die kerkraad op Tulbagh waarin hy vrystelling vra vir tolgeld, dit word
gehef vir elke rytuig wat die bergpas gebruik. Die tolgeld is nodig om die pad
in ‘n goeie bruikbare toestand te hou. Die versoek raak boere wat Sondae oor
die berg ry om kerkdienste op Tulbagh
by te woon. Die saak is na die
Politieke Raad in Kaapstad verwys, wat vrystelling op Sondae aan kerkgangers
gegee het. (ge-epos op 12/02/2003)
LXIII Imposante kansel
ingewy
Kaapstad – 29 November 1789
‘n Merkwaardige kunswerk in die vorm van ‘n kansel
is in die Groote Kerk ingewy, geskep deur die meestervakman Anton Anreith en
die timmerman Jan Jacob Graaf. Die pragtige kansel is in die dienstyd van ds
Helperus Ritzema van Lier uit Indiese hout gemaak, dit rus op die rûe van twee
leeus met hulle pote op ‘n boekrol, met ‘n simboliese anker in die middel, die
leeus is simbole van krag, beskerming en oorwinning. In 1889 word die 100-jare
bestaan herdenk met ‘n preek van dr J Kotze uit Nehemia 8:5 en in 1989 met die
200-jarige herdenking deur ds J van der Westhuysen met 2 Timoteus 4:1-4 as
teksvers. Belangrike gebeurtenisse in Suid-Afrika het voor die kansel
afgespeel, tot vandag toe ‘n belangrike baken in ons gereformeerde
kerkgeskiedenis.
LXIV ‘n Kerkorde op eie
bodem
Kaapstad – 1804
Die besetting van die Kaap deur Nederland bring
verandering op kerklike werf, onder leiding van J A Uitenhage de Mist. As
kommissaris-generaal handhaaf hy ‘n hoë premie op godsdiens binne die staat,
daarom vaardig hy die kerkorde uit wat uit 52 artikels bestaan. Dit het onder
meer die beroeping, verplasing en vergoeding van leraars en hulle weduwees
bepaal, ook die aanstelling van nuwe kerkraadslede. Die kerkorde het benewens
sy voordele, ook baie nadele wat spanning bring tussen kerk en staat. Skeiding
het nie plaasgevind nie, eerder ‘n verknegting aan die owerheid wat nie in
Koninkryksbelang was nie.
LXV Eerste kinderhuis in
Suid-Afrika
Kaapstad - 1815
Op 26 September 1815 word die eerste kinderhuis in
Kaapstad deur die plaaslike leraar ds J P Serrurier ingewy, die geboorte van
“Het Zuid-Afrikaanse Weeshuis” is deur die jong kinderlose weduwee Margaretha
Anna Möller aangevuur. Na haar dood het sy die reusebedrag van 14,000 pond
nagelaat om die saak te ondersteun. Die gebou is ontwerp deur die Franse
argitek Louis Michel Thibault, tot in 1970 ‘n bekende landmerk in die skadu van
Tafelberg.
LXVI Binne ‘n kinderhuis
se mure
Kaapstad – 1815 +
‘n Interkerklike direksie het die eerste
kinderhuis bestuur, drie lede van die Groote Kerk in Kaapstad en drie lede van
die Lutherse Kerk in Strandstraat. Streng strawwe soos lyfstraf was aan die
orde van die dag, ‘n pakkamer het as tronk gedien en kinders is soms in
afsondering opgesluit met brood en water as voedsel. Vir ernstige oortredings
is hulle met ‘n ketting aan ‘n blok vasgesluit. Maar in 1836 is strafmaatreëls
versag en het ernstige vermaning ‘n groter rol begin speel.
LXVII Nagmaal ‘n
enorme feesgeleentheid
Cradock – 1822
Elke drie maande trek lidmate van die uitgestrekte
gemeente Cradock laer vir Nagmaal op die walle van die Visrivier, gewoonlik is
daar tussen 300 en 450 waens met honderde mense. Daar is gesing en tot oormaat
kerk gehou, alle vreugdevure brand hoog. By die kerklike geleentheid is kinders
gedoop, huwelike bevestig en lê jongmense belydenis van geloof af. Nagmaal het
ook kommersiële betekenis vir grensboere, handelaars en smouse doen fluks
besigheid. Daarom keer menige vrolike boeregesin terug na ‘n afgesonderde plaas
met ‘n geseënde hart en ‘n krakende wa vol noodsaaklikhede. (epos 30/06/2003)
LXVIII Jong seun ry nie perd nie maar die
preekstoel
George – 22
Mei 1812
Ds T J Herold
word op 22 Mei 1812 eerste leraar van die Suid-Kaap met sy bevestiging op
George, net soos sy oupa en vader is hy afgesonder vir die Evangeliebediening.
Toe hy as jongeling opgeroep word om op Stellenbosch militêre diens te verrig
en hy ‘n perd met saal en toom ontvang, is sy vader se profetiese woorde: “Wat
! paard, zalen en toom ! Ik zal je op ‘n houtenpaard (preekstoel) laten
rijden”. In die groot en uitgestrekte
gemeente George doen die jong leraar baanbrekerswerk en bedien geestelik
die veroordeelde burgers met die Slagtersnek opstand. In 1923 word hy leraar in
die Paarl en bedien vanaf 1831 tot 1857 die gemeente Stellenbosch, waar sy
vader sedert 1800 tot met sy dood in 1825 sieketrooster is.
LXIX Unieke Kanselbybel
In die
stigtingsjaar van die NG Gemeente Uitenhage strand ‘n Hollandse oorlogskip tussen
die Swartkops- en die Kougarivier. Die 217 brose skipbreukelinge is met waens
na Uitenhage vervoer waar gemeentelede barmhartigheidshulp verleen het. In 1819
skenk kommissaris-generaal J A Uitenhage De Mist, na die wie die nuwe dorp
vernoem is, uit dankbaarheid ‘n groot Kanselbybel aan die gemeente Uitenhage.
Voor in die Bybel met leeromslag en
silwerbeslag, betuig J A de Mist self sy dankbaarheid met ‘n geskrewe boodskap.
Ds J J
Kicherer is aanvanklik ‘n sendeling aan die Sakrivier in die Karoo, daarna
leraar op Graaff-Reinet werksaam is. In 1815 word die gebore Hollander leraar
op Tulbagh waar hy kort na sy aankoms met die koster D du Toit bots. Die
kerkraad probeer die saak in die reine te bring, maar die leraar wou nie kop
gee nie en lê ‘n klag teen die koster by die kerkraad. Die leraar het sy koster
se optrede volgens die notule “als een soort van opsternaatheid” beskryf en
aangedring op sy bedanking as koster. Om vrede te herstel en te bewaar het die
kerkraad die leraar sy sin gegee en is ‘n nuwe koster aangestel. – dr Gerdrie
van der Merwe
LXXI Bybelgenootskap aan die Kaap
Dit was ‘n
grootse oomblik toe die eerste sinode van die NG Kerk vanaf 2-18 November in
die Groote Kerk in Kaapstad vergader, van die 14 gemeentes was 12
verteenwoordig, die staat is verteenwoordig deur twee politieke kommissarisse,
onder meer sir John Truter. Voor die preekstoel het twee rye tafels gestaan,
aan die een kant die regering se verteenwoordigers en aan die anderkant die
moderamen. Aan 'n langer tafel voor die preekstoel het afgevaardigdes van
gemeentes gesit, in die volgorde van die oudste tot die jongste. Ds J C
Berrangè van Kaapstad is as moderator verkies het ‘n besielende openingsrede gehou. By die sinode is die Kaapse Kerk saamgebind om meer onafhanklik
van Nederland te funksioneer. – dr Gerdrie van der Merwe.
LXXIII Blaasorkes bring aanvanklik spanning
George – 14 Oktober 1827 en 9 Oktober 1842
Die jong en later gesette ds J S B Ballot, self ‘n
predikantseun wat die kansel letterlik kon volstaan, word herder en leraar in
die uitgestrekte gemeente George. Dit is sy eerste en enigste gemeente wat hy
vyf-en-dertig jaar lank tot met sy dood bedien. Hy beywer hom met hart en siel
vir die oprigting van die imposante en nou geskiedkundige kerkgebou in die
hartjie van George. Met die inwyding van die kerkgebou in 1842, is daar
spanning toe ds Ballot voorstel dat ‘n blaasorkes die gemeentesang begelei,
maar die kerkraad het dit afgekeur. Die leraar was kwaad en belê weer ‘n
vergadering wat toegee dat die blaasorkes nie in die kerkgebou nie, maar in die
voorportaal kan speel met kerkinwyding. Dit was so indrukwekkend dat die
blaasorkes op versoek die volgende Sondag voor die preekstoel geplaas is.
LXXIV Kerksitplekke
streel ego van stoutmoedige poue
Kaapstad – 3 November 1829
Tydens die Sinode van 1829 word besluit om
spesiale sitplekke vir hooggeplaasdes in kerke uit te faseer. Soos in die
Bybelse tyd in Luk 20:46 het mense aan die Kaap graag die voorste gestoeltes
ingeneem. Die kerkraad was verplig om dit te reglimenteer, want vroue het die
koster ‘n pyn in die nek gegee. Die reisiger Peter Kolbe noem die vroue
stoutmoedige poue, want hulle het luidkeels die erediens ontwrig as hulle nie
op ’n bepaalde plek kon sit nie. Humeure het soms opgevlam, die koster moes as
vredemaker gewoonlik die onderspit delf. Die besluit van 1829 is nie oral met
vreugde ontvang en toegepas nie. In 1844 het die kerkraad van Stellenbosch
sommige sitplekke deur loting aangewys. Selfs met die bou van die huidige
Moederkerk op Stellenbosch in 1863, is besluit om sitplekke en familiebanke toe
te ken volgens jare van lidmaatskap. Tot ongeveer 1950 was daar nog gemeentes
in die NG Kerk wat kerkbanke verhuur het. Gesprekke in ons Kerk oor die voorste
gestoeltes gaan steeds voort.
LXXV Predikant J J Beck
hou sy bek
Durbanville – 1834
Ds J J Beck was 52- jaar lank predikant in
Durbanville, ‘n eksentrieke mens wat gou sy humeur kon verloor, wat iemand se
kop deeglike kon was met woorde. Hy het ‘n afkeur in die bywoon van rings- en
sinodale vergaderings getoon, selfs nadat die kerklike gesag na veel vermaning
en gesprek nie kon vorder nie en hom ‘n geldboete opgelê het. Na ‘n stryd van
13 jaar het die Sinode van 1847 hom ses weke geskors sonder salaris. Dit het
die nodige uitwerking gehad, maar sy humeurigheid het soveel probleme gebring dat die afgevaardigdes hom
gemaan het om liewer sy mond dig toe
hou. Toe hy by geleentheid ‘n ete met ‘n ringsitting nie bywoon nie, het dr
Philip Faure van Wynberg droog opgemerk: “Ja, vandag zullen wij moet eten
zonder bek !”
LXXII Kerknuus met bakens
– 1824 – 1838 – 1849 – 2004.
Kaapstad – 20 Januarie 1824 -
In die hart van ds Abraham Faure, predikant van
die Groote Kerk in Kaapstad, leef die droom om ‘n eie blad vir lesers aan die
Kaap te gee. Hy word beskou as ‘n baanbreker van kerklike en letterkundige joernalistiek
in Suid-Afrika. In April 1824 is die tyd ryp vir die verskyning van die “Het
Nederduitsch Zuid-Afrikaansche Tijdschrift”, die eerste algemene nuusblad in
Suid-Afrika. Dit het bestaan uit nuus, preke, artikels en gedigte. Dit dien as
voorloper vir die verskyning van die eerste Suid-Afrikaanse kerklike blad, “De
Honigbij, maandschrift voor godsdiensminnende lezers” wat in Oktober 1838
verskyn. Onder leiding van ds A Faure is dit die poort na die verskyning van
“De Gereformeerde Kerkbode” op 13 Januarie 1849, die amptelike blad van die Ned
Geref Kerk wat steeds in 2004 vars kerknuus in ons harte en huise bring.
LXXIII Leraar bewerk
kerkskeuring
Tulbagh (1837)
Ds Robert Shand word in 1835 leraar van die
gemeente Tulbagh, ‘n vroom maar dom predikant as dit by oordeelsvermoë en
mensekennis kom. Hy vergader spoedig ‘n groep lidmate wat na sy pype dans en sy
ego streel, so doen hy dinge op sy eie wyse en word lidmate wat van hom verskil
uit die gemeente geweer. Daar is gou bitterheid tussen die leraar en ‘n deel
van die gemeente, ‘n saak wat kerklik ondersoek word en uitloop op die dominee
se skorsing. Toe ds Robert Shand ‘n meer versoenende houding openbaar, word hy
weer as leraar van Tulbagh in sy amp herstel. Maar ‘n aansienlike groep
beswaarde lidmate kom daarteen in opstand en eis dat ds Shand die gemeente en
dorp verlaat. Toe pogings tot herstel misluk, verlaat die ontevrede lidmate die
Tulbagh gemeente en stig in 1843 met 500 lidmate die NG Gemeente Kruisvallei op
Tulbagh. Eers na 92 jaar word die strydbyl begrawe toe die gemeentes in 1935
weer verenig as NG Gemeente Tulbagh.
LXXIV Groot Trek sonder
Moses en Aäron
Cradock (1837)
Met uitsondering van enkele predikante veroordeel
die Kaapse Sinode van 1837 die Groot Trek, veral omdat trekkers “zonder eenen
Mozes en Aäron de woestyn introkken, en zonder belofte of aanwyzing thans een
Canaän voor zich opzoeken”. Grensboere se situasie onder die Britse vlag was
moeilik, maar die leraars het geglo om in die woeste wildernis te oorleef was
erger. Aan die begin van 1838 veroordeel ds John Taylor van Cradock in ‘n preek
die trekkers, wat soos ‘n Jona van God wou wegvlug. Lidmate het die leraar
ernstig verkwalik, daarna was hy meer versigtig met sy preke. Die trek van
Hendrik Potgieter het hom telkens genooi om hulle leraar te word, maar hy weier
elke keer. Later neem sy kollegas hom kwalik toe hy die “uitgewekenen” op die
trekpad besoek, later doop hy gereeld kinders “Over de Grenzen”, by geleentheid
meer as 39 kinders in die vreemde.
LXXV Sarel Cilliers bid vir sy
perde
Kroonstad – (1838
- 1848 - 1862)
In die geskiedenis van die N G Kerk staan Sarel
Cilliers uit as ‘n vroom en godvresende ouderling, sy kinderlike geloof en
oorgawe oorheers sy menswees. Hy beklee onafgebroke die amp as ouderling, hy
was trots op wat vir hom ‘n ere-titel was, daarom skryf baie keer agter sy naam
“ouderling” of “oud-ouderling”. Die Bybel was sy enigste leerboek, ‘n
genoegsame wegwyser onder alle omstandighede. Hy het die groot “Staten-Bijbel”
met sy aantekeninge vyf maal deurgelees, sy briewe en geskrifte wemel van
Bybeltaal- en beelde. Op 15 Junie 1864 is hy op Smithfield met die opstel van
kerkwette, daar bid hy ernstig vir sy perde wat hom moet terugneem na
Kroonstad. Toe iemand hom vra hoekom hy vir sy diere bid, het hy ook ‘n
teksverwysing vir die geleentheid: “De regtvaardige kent het leven zijner
beesten, maar de barmhartigheden der goddeloozen zijn wreed” (Spreuken 12:10)”
– dr Gerdrie van der Merwe.
LXXVI Kerkgebou met
klippe bestook
Kaapstad – (1838 - 1843 – 1857)
Op 1 Desember 1838 word die slawe aan die Kaap
vry, hulle geestelike vryheid word bevestig met die stigting van ‘n eie
gemeente. Dit word St Stephans genoem, ter ere aan Stefanus die eerste
Christenmartelaar, want as vrygemaakte slawe voel hulle dit aan eie lyf. Die
vyandelike Kapenaars bestook die aanbiddingsplek met klippe en gooi venters
stukkend, uit woede want hulle het die teater en slawe verloor. Die NG Kerk aan
die Kaap maak geskiedenis, ‘n ou volksteater of komediehuis sedert 1801 waar
wêreldse jolyt gevier is, word omskep in ‘n kerkgebou vir vrygemaakte slawe. Op
30 April 1843 word die “nuwe slawekerk” ingewy, ‘n visie van ds G W Stegman wat
op 15 November 1857 die Nederduitse Gereformeerde Gemeente St Stephans word,
wat vandag nog bestaan. ‘n Teater word ‘n kerkgebou, plek van aanbidding,
vergiffenis, bevryding en genesing. Vandag nog in die hart van die Moederstad
‘n bewys van wat die Here doen, want St Stephans is ‘n hoopvolle baken.
LXXVII Polisieman help
dominee met astrante doopouer
Swellendam (16 September 1834)
Die bekende dr William Robertson trap diep spore
in die Kaapse Kerk, ‘n herder en leraar
wat 38- jaar lank die gemeente Swellendam bedien. Buitekerke word gestig wat
later sewe gemeentes word, een daarvan Robertson dra sy naam. As eertydse
onderwyser van Graaff-Reinet glo hy in deeglike kategese, met sy
streng-ordelike leefwyse en kragtige persoonlikheid is hy ‘n leiersfiguur in
die NG Kerk. In 1834 plaas hy ‘n ouerpaar van Swellendam onder kerklike tug,
daarom word die doopgeleentheid van hulle kindjie uitgestel. Die astrante vader
aanvaar dit nie en gaan staan met die volgende doopdiens rustig met ander ouers
voor die kansel. Hiermee wil hy die leraar dwing om sy kind te doop, hy weier
om te gaan dit en wil ‘n argument voor die kansel begin. Noodgedwonge vra ds
Robertson ‘n polisieman om die moeilike man uit die kerkgebou te verwyder, tot
groot ontstigting van die gemeente. ‘n Hofsaak word teen die leraar gemaak, die
klaer getuig: “Wat moeten wij ongelukkige Afrikanen tog niet lijden ! Nu
beginnen de Schotten ons al uit onze eigene Kerk te jagen”. Na baie praat en bid word die saak
opgeklaar.
LXXVIII Woelinge in die
jong Colesberg
Colesberg (1829 – 1837 – 1844)
Die Kerkraad besluit op 16 September 1829 om die
gemeente en dorp se naam te verander van Torenberg/Toverberg na Colesberg, ‘n
vesoek wat die Kaapse goewerneur sir Lowry Cole goedkeur. ‘n Jaar later word
die hoeksteen van die nuwe kerkgebou gelê, ‘n pastorie gebou en erwe verkoop
aan mense wat op die dorp wil kom woon. Op die voorjaar van die Groot Trek word
ds Thomas Read in 1835 die eerste vaste leraar, iemand wat gekant is teen die
“De Evangelische Gezangen” van 1814, maar dit bring groot stryd en verdeeldheid
in die gemeente wat byna twee dekades duur en tot die bedanking van ds Read in
1854 lei. Woelinge bedaar nie, ‘n groot aantal anti-gesange groep stig ‘n eie
“Gereformeerde Gemeente” op Colesberg wat deel is van die Gereformeerde Kerk
wat in 1859 gestig word. Buite die dorp boer Piet Potgieter wat op 18 Janaurie
1844 weier om meer as ses riksdaalders vir sy meel en koring te neem, al kry sy
mede-boere al veertig riksdaalders vir hulle meel. Hierdie boer glo dat hy nie
geregtig is op hoër vergoeding of onregmatige wins nie, want die kleiner
vergoeding dek sy werk- en bedryfskoste. In hierdie voorpos gemeente aan die
To(ren)- To(ver)berg is daar veel om oor te skryf, ‘n plek wat as besondere
ligbaken dien.
LXXIX Nagmalsveiling
Uitenhage (1830)
In die veertigjarige dienstyd van ds Alexander
Smith is die Nagmaal jaarliks gedurende Januarie, April (Paassondag), Julie en
Desember (Kersdag) bedien. Hy bedien die Nagmaal op Paassondag 1824 aan die
Hollandssprekende deel van die gemeente, ‘n week later word hy waarskynlik die
eerste leraar van die N G Kerk wat die sakrament van die Nagmaal in die Engelse
taal bedien. Uitenhage maak weer geskiedenis, die eerste Sondagskool het ook sy
oorsprong op die dorp langs die Swartkopsrivier. Gewoonlik is veeveilings ook
met Nagmaalsnaweke gehou, hieroor maak diaken J A Landman in die kerkraad
beswaar dat dit “op de voorbereiding voor het Heilige Avondmaal” gebeur. Hy is
die ouer broer van die bekende Voortrekkerleier, Karel Pieter Landman. Die
kerkraad besluit in Oktober 1830 om die siviele kommissaris en magistraat te
vra om die veeveilings stop te sit. Terselfdertyd word gevra dat die kantore
moet sluit “op de voorbereidings en dankzegging dagen voor en na het Heilige
Nachtmaal”. Die antwoord is kort en kragtig, nie “zonder een order van den
Goewerneur”, die siviele kommissaris laat ook weet daar bestaan geen wet om
sulke veilings te verbied nie. Die kerkraad moet berus met die gebruiklike
veeveilings tydens Nagmaalstye, ook sorg dra dat die skare mense geestelike
gevoed, versterk en getroos huis toe gaan.
LXXX Kerkorrel luisteryk
ingewy
Kaapstad (11 Julie 1830)
Die plegtige inwyding van die nuwe orrel in die
kerkgebou van die Groote Kerk in Kaapstad is ‘n groot geleentheid, die lys
eregaste by die geleentheid is indrukwekkend. Die kerkgebou was stampvol en
mense wat nie ‘n sitplek kon kry nie het gestaan. In sy preek het ds Abraham
Faure uit die Bybel aangetoon dat musiek by godsdienstige plegtighede
noodsaaklik is, ook dat die orrel die mees geskikste instrument daarvoor is.
Hierna is ‘n erediens in Engels deur eerw George Hough waargeneem, ook met ds J
H von Manger se aanddiens was die kerkgebou vol feesgangers
In die kerkhistoriese geskiedenis van die gemeente
Groote Kerk het vier orrels die gemeentesang begelei. Die Hoets-orrel van 1830
was die derde orrel, die eerste kerkorrel in Suid-Afrika is reeds in 1737 in
gebruik geneem, daaraan is veranderings oor die jare gedoen en het 127 jaar
diens gedoen. Op 1 Desember 1957 is die huidige orrel met sy vier manuale, 74
registers en 5 426 pype ingewy, die grootste kerkorrel in Suid-Afrika wat na
omvattende restourasiewerk in 2002 opnuut feestelik ingewy is. Die Nederduitse
Gereformeerde Kerk is diep dankbaar en trotse dat hierdie musikale erfstuk as
deel van die historiese Groote Kerk in Kaapstad vir die nageslag bewaar
word.
LXXXI Predikant verdwyn
sak en pak uit dorp
Dordrecht (April 1862)
Op 10 Augustus 1861 begin ds Carel Trappes Scholtz
sy bediening, ‘n jong gewilde en minsame leraar in die Stormberg. Maar hy
verdwyn soos mis voor die son terwyl die gemeente tydens die April
Nagmaalsnaweek tervergeefs in die kerkgebou vir hulle leraar sit en wag. Toe hy
na ‘n tyd nie opdaag nie het die koster en kerkraadslede hulle na die pastorie
gehaas en vind toe dat die gebou leeg is. Ds C T Scholtz het die vorige nag sak
en pak uit Dordecht getrek, sonder om enige persoon in die dorp in kennis te
stel. Hulle is terug na die kerkgebou, waar alles gereed was vir die
nagmaalsviering. Die brood, wyn en gemeente het nie ontbreek nie, wel die
leraar om die genade-tekens uit te deel.
Hoe die leraar dit reggekry het om ongesiens te verdwyn, is nie duidelik
nie en die saak was lank die hoofdis van bespreking op hierdie dorpie in die
Stomberge. Die eerste wat die kerkraad van die leraar hoor, is sy
bedankingsbrief. Dordrecht se kerkraad was baie simpatiek oor sy skrywe en
demissie is aan hom toegestaan. Kort hierna in 1863 word hy op ‘n omstrede wyse
beroep as leraar van die N G Gemeente Napier, waar hy tot in 1889 diens doen
toe hy weens ‘n geestesversteuring die bediening verlaat. Hierna leef hy nog 24
jaar lank as pasient in ‘n spesiale hospitaal in Kaapstad tot met sy dood op 9
Oktober 1913.
LXXXII Predikant met
sambok geslaan
(Utrecht – 12 Augustus 1868)
Ds Frans Lion Cachet was ‘n vurige predikant wat alles
in die stryd gewerp het om die saak van die Ned Geref Kerk te bevorder. In die
tyd was daar groot kerklike verkeurdheid in die Transvaal, ‘n saak wat hom
dikwels in botsing gebring het met die Ned Hervormde Kerk. Hy het nie vir die
duiwel gestuit nie, daar is baie verhale in omloop oor sy doen en late op die
kerklike akker. Op ‘n keer bevind hy hom in die distrik van Groot Marico, waar
komdt. Jan Viljoen, bekende grootwildjagter en leier in die Ned Hervormde Kerk,
hom verbied om besoeke te doen en te preek. Die gort was gaar en die humeure
tussen die twee kerkmanne was kort - ds Jan Lion Cachet was onversetlik en wou
nie gehoor gee om die gebied te verlaat nie. Toe niemand op sy bevel as
kommadant die osse van die leraar se wa wou doodskiet nie, neem die die
ouderling in ‘n oomblik van blinde woede self die voortou. Hy storm met sy perd
op ds Jan Lion Cachet af en gee hom ‘n pak slae met sy sambok. In daardie dae
was predikante kroonwild, daarom word die daad met die seekoeisambok met
afgryse bejeen en kry die leraar simpatie en ondersteuning van onverwagte
kante. Later kom versoening, ‘n Ned Geref Gemeente op Groot Marico word gestig
en later met die inwyding van die kerkgebou is kommandant Jan Viljoen self ook
teenwoordig. Die sambok het hard gepraat, maar niks kon die vestiging van die
Ned Geref Kerk in Transvaal stuit nie.
LXXXIII Spanspek of
skorsies?
Glen-Lynden (1835)
Die Skotse leraar ds Alexander Welsh kom na
Suid-Afrika en word deur die staat as leraar op Glen Lynden aan die
Baviaansrivier naby die huidige Bedford geplaas. Met moeite leer hy by die
Afrikaner aanpas en verkonder met ywer en volharding die Evangelie aan die
boere en word ‘n geliefde leraar wat die gemeente meer as twintig jaar lank bedien.
By geleentheid is hy met huisbesoek by C F van der Nest op die plaas
Bosfontein, waar hy ‘n heerlike spanspek eet. Met sy vertrek word soos die
gewoonte destyds was, die leraar se rytuig gevul met lekkernye en groente. Toe
die leraar weer sy weldoener sien bedank hy hom vir die groente maar vra hoekom
die spanspek wat hy met die groente gekry hety so hard was dat hulle dit byna
nie kon eet nie. Die leraar verneem toe dat dit nie spanspekke was nie maar
skorsies wat hy ontvang het.
LXXXIV Joodse gebed
Burgersdorp (±1869)
Jan Lion Cachet, later predikant en professor in
die Gereformeerde Kerk, is die jonger broer van ds Frans Lion Cachet,
baanbreker leraar in die pionierstyd in Transvaal. Jan Lion Cachet kon hom nie
vereenselwig met die liberale kerkstryd waarin die N G Kerk verkeer nie, bedank
en word later ‘n bekende teoloog in die Gereformeerde Kerk. Albei broers is die
seuns van gekerstende Amsterdamse Joodse ouers, in Suid-Afrika speel die broers
‘n groot rol in die kerklike lewe. Hulle het hulle kinders geleer dat die Jode
nie sleg kan wees nie, want die Messias is uit hulle gebore. Jan-Lion Cachet
gee aan drie van sy kinders Joodse name. Grapperig-ernstig het hy dikwels vir
sy kinders die gebedjie opgesê wat hy as Joodse kindjie geleer het. “Ek dank U,
God van Vader Abraham, Isak en Jakob, dat U my nie as ‘n meisie laat gebore
word het nie”. In sy jong dae moes hy en sy ouderling met ‘n perdekar deur ‘n
vol rivier ry. In die middel van die rivier raak hulle in die moeilikheid.
‘Dominee, dis nou tyd om te bid’ roep die ouderling benoud. ‘Nee, broeder, dis
nie vir my tyd om te bid nie, maar vir jou om die perde te slaan’, was sy
praktiese antwoord”.
LXXXV Dame beledig
Cradock (1859)
Die bejaarde ds John Taylor, sedert 1824 tot met
sy dood in 1860 herder en leraar in die voorpos gemeente Cradock, beleef in
1858 die koms van ‘n eerste orrel wat groot vreugde maar ook beroering in die
gemeentelike lewe bring. Dit sou sy plek voor die galery regoor die kansel
inneem, ‘n sterk en welluidende instrument wat deur Frederick Barr van
Grahamstad uit Engeland ingevoer is. Coenraad Strasheim, onderwyser aan die
Hollandse Kerkskool
word die eerste orrelis, maar na klagtes word hy afgedank, omdat hy “niet
behoorlyk naar de Nooten of Zang Toon” speel nie. Toe ds Taylor se dogter Nancy
die orrel daarna bespeel, is dit eens te veel vir sekere gemeentelede net ‘n
veel. ‘n Versoekskrif van ongeveer sewentien gemeentelede kla dat ‘n “dame” die
orrel speel, dit is nie ‘n plek vir ‘n vrou nie. Hieroor is verdeeldheid in die
kerkraad, die bejaarde ds Taylor word bygekom in die plaaslike pers. ‘n
Eietydse gelykenis vertel van die ou herder wat saam met sy tien dom bokke oor
die lot van ‘n Hollandse os moes beslis. Die os is kort tevore deur die herder
die skaapkraal ingebring, maar toe hy die geraas nie langer kon verduur nie,
stoot die bokke hom uit. Nou word die
Hollandse os vervang met ‘n rooibont vers van Engelse ras -. Die “rooibont
vers” wys na die leraar se dogter – sy tree jare lank sonder vergoeding op as
orrelis in die eerste kerkgebou op Cradock.